MOSSELBAAI NUUS - Die volgende inligting is ontvang uit die kantoor van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
Biblioteekure is vanaf 08:00 – 15:00, dan ook elke laaste Saterdag van die maand.
Dit geld die biblioteke van Mosselbaai/ Hartenbos/ KwaNonqaba/ Ellen Van Rensburg.
• Biblioteke van Greenhaven, Friemersheim en D'Almeida is nie op Saterdae oop nie.
• Sonskynvallei-biblioteek: 13:00 tot 17:00 ( Maandae/ Woensdae/ Vrydae)
• Buisplaas-biblioteek: 10:00 tot 13:00 (Dinsdae en Donderdae)
• Toekoms-biblioteek: 14:00 tot 17:00 (Maandae en Woensdae)
Hierdie reëling geld tot einde van Februarie wanneer die bedryfsure weer in oorweging geneem sal word.
Geposisioneer vir vooruitgang
Mosselbaai-munisipaliteit is oorgehaal om die dorp te posisioneer as die voorkeurbestemming vir diegene wat van die huis af kan werk. Navorsing toon dat dié internasionale tendens toeneem, dat maatskappye hul personeel aanmoedig om van die huis af te werk en dat meeste personeel inderdaad dit so verkies.
COVID-19 het 'n omwenteling op arbeidsterrein teweeg gebring en 'n dorp soos Mosselbaai, wat met die bes-bestuurde plaaslike owerheid in die land kan spog, neem die voortou om die dorp gepas te posisioneer tot voordeel van die ekonomie.
Mosselbaai kan veral professionele persone akkommodeer wat die voordeel van 'n stabiele munisipaliteit en effektiewe dienslewering, bykomend tot die omgewing se gematigde klimaat, uitstekende ligging en infrastruktuur, verkies.
Van die voorvereistes vir van die huis af werk is onder meer vinnige en betroubare internetverbindings. Mosselbaai is talle ander dorpe ver voor met die installering van optiese veselkabel vir stabiele, vinnige internetverbinding, en kontrakteurs vorder fluks met die projekte.
Ongelukkig bring vooruitgang en ontwikkeling soms onafwendbaar ongerief mee, en die munisipaliteit vra verskoning vir diegene wat onlangs water- of kragonderbrekings ervaar het toe kontrakteurs munisipale infrastruktuur beskadig het.
Die kontrakteurs is aangespreek en die munisipaliteit sal, waar moontlik, verseker dat die installering verder vlot verloop. Binnekort sal kontakdetail gekommunikeer word sodat inwoners direk met die kontrakteurs kan skakel, indien nodig.
Inwoners moet asseblief begryp dat die kontrakteurs die optiese veselkabel op munisipale eiendom aanbring - die sypaadjie voor u huis waar slote gegrawe word om die kabels te lê, behoort aan die munisipaliteit. Die kontrakteurs probeer sover moontlik die area in dieselfde goeie toestand te laat.
Die munisipaliteit bedank graag inwoners wat trots die aansien van hul wonings verbeter deur ook die sypaadjie voor hul huise te versorg. Tog word versoek dat die groensak- vullisverwyderingstelsel liefs gebruik word om tuinvullis mee weg te doen.
Moet asseblief nie tuinafval soos grassnysels in die pad laat vir die munisipaliteit om te verwyder nie.
Ek deel graag 'n skrywe wat ek onlangs van 'n inwoner ontvang het wat met sy gesin na Mosselbaai verhuis het om hiervandaan vir ‘n gesiene maatskappy in Johannesburg te werk
Beste Adv Giliomee
Dankie vir nog ’n skrywe om ons inwoners ingelig te hou. U punt ivm. die werkplek veranderinge wat dit meer aantreklik maak vir korporatiewe leiers om geleenthede in ’n gesonder omgewing te benut het my genoop om te reageer.
Ek ag myself ’n goeie voorbeeld, tans as Hoof van Besigheidstelsels vir ('n vooraanstaande IT-maatskappy)
Ons gesin het in Des 2019 vanaf Pretoria na Reebok verhuis - na 22 jaar in Pretoria en daaglikse pendel (2 tot 3 uur per dag) na Johannesburg was dit tyd vir rustiger word.
Ons het 2020 met een pas gematrikuleerde aan begin van sy "gap” - jaar en twee Gr 8’s wat met verwagting na hul Hoërskool loopbaan aan Die Punt uitgesien het begin. Vroulief het na 20 jaar se voltydse onderwys uitgesien na ’n jaar of twee sabbat. Die uwe sou aanpas by ’n pendellewe van alternatiewe weke vier dae in Gauteng.
So het alles goed afgeskop en al my kollegas was reeds effens groen as ons notas uitruil oor Mosselbaai vs Gauteng. My Besturende Direkteur was akkommoderend, maar het tog nog geskimp dat dit tog maar beter is om op kantoor te wees as mens dinge effektief wil bestuur…. en toe is dit COVID-19 en inperking.
In kort - ek het op 23 Maart 2020 laas voet in kantoor gesit - (die plan is om aanstaande week oë te gaan wys - nie om werksredes, maar om my seun vir sy eerste studiejaar in Pretoria te help inburger).
Mosselbaai was ons goed bekend - my ouers is afgetree hier sedert 1995 en my Pa was Burgemeester in Groot-Brakrivier vir n wyle. Maar soos dit gaan leer mens eers die plek ken as jy buite die piektye hier is.
Ons ervaring die afgelope jaar was net positief - die feit dat ons nou uiteindelik kon bewys dat dit moontlik is om werklik van enige plek enige tyd te kan werk (as korporatiewe bestuur en in baie opsigte die meerderheid van ons werknemers - vanaf Finansies, Menslike Hulpbronne, IT, Kliëntediens en Verkope tot groot mate) het in my persoonlike geval die uitdagings en soms tragiese impak van Covid-19 met ’n goeie skoot positiewe ervarings versag.
Enkele voorbeelde van ons ervaring tot dusver met die munisipaliteit wat uitstaan en waarmee ek u en die hele personeel geluk wens dat ons in so ’n pragtige en funksionerende dorp kan woon:
1. Ons mag maar Afrikaans praat met almal waar jy kom - my kinders is dit nog nie gewoond nie… en die mees vriendelike en behulpsame personeel!
2. Om bouplanne goed te keur - - mees hulpvaardige personeel en daar is wynig wag.
3. Dienste aansluit was ’n paar minute - en rekeninge is op tyd en akkuraat. Ek het op ’n Maandag in Januarie 2020 binne 30 minute dienste aangesluit, Posbus hernu en registrasie dokumente by Punt
4. Voertuig registrasie en lisensiehernuwings - na 3 rondtes deur die jaar was dit elke keer ’n plesier - ten spyte van inperkings.
5. Bestuurslisensie - -seun kon met eerste probeer afspraak kry en slaag - - in Pretoria was maande wagtyd.
6. Bestuurslisensiehernuwing - tot my skoondogter van Jhb het haaar lisensie hier kom hernu - - vinniger om hierheen te vlieg en doen as in Jhb.
7. Alles is so skoon - vullisverwydering klokslag elke Maandag 8uur - en alles netjies sorteer - tot die tuinvullis. In Pretoria-Oos het ons verskei pogings gehad met herwinning, wat telkens net doodgeloop het.
8. Waar sal jy in Gauteng sien dat verbykomende motors beskerm word met skadunet terwyl die gras langs strate gesny word (indien dit ooit daar gesny word).
9. Gereëlde direkte kommunikasie van u en burgemeester.
10. Nooddienste is paraat - ons het ’n motorfiets ongeluk reg voor ons huis gehad en binne 15 minute was ambulans, verkeer, brandweer op die toneel.
11. Die effektiewe reëlings met Covid soos bv. die toetsfasiliteit - my broer en sy gesin was tydens Des. blootgestel in Vleesbaai en moes deur die toets en afsondering periode gaan - net goeie terugvoer gekry.
Ek kan natuurlik lank uitwei oor die ander kwaliteit van lewe ervarings - ons voel veilig - leef nie agter hoë mure nie, hoewel ‘n mens maar jou parate ingesteldheid van Gauteng behou - draf op die strand elke oggend, hoor die see deur die nag ipv verkeer, dit neem net 10 minute om by enige winkel uit te kom - daar was dusver geen item wat nie in Mosselbaai, George, of binne 3 dae via aanlywinkel verkry kon word nie, 20 min om by die lughawe te kom, 20 minute om in die berg te kan wees vir stap, ens.
Soos u tereg dan sê - Mosselbaai is beslis, nou meer as ooit, ’n voorkeur bestemming om te oorweeg indien jy ’n besige aanlyn korporatiewe lewe het! Ek sien uit na die optiese vesel verbinding wat ons eersdaags hier in Reebok sal hê (het verlede week in die tegnikus vasgeloop wat opmetings doen).
Intussen het twee kollegas ook tuisgemaak in George…
Baie dankie en sterkte aan u en personeel.
The Great Escape to Mossel Bay
Mosselbaai Toerisme se Great Escape to Mossel Bay-bemrkingsveldtog wat daarop ingestel is om toeriste na die area te lok, was tot nog toe baie suksesvol.
Straks het dit die verdere, onvoorsiene voordeel om ook nuwe inwoners te lok wat die unieke omgewing en dorpskultuur - wat bestaande inwoners koester - vir hul permanente werk-van-die-huis-af omgewing te oorweeg.
Mosselbaai CID
Die Mosselbaai-stadsverbeteringsdistrik (CID) is voornemens om die grense uit te brei om meer besighede en eiendomme daarby in te sluit.
Die hoofredes vir die voorgestelde uitbreiding is om die hele Sentraal-Mosselbaai stadskern, en nie net 'n klein gedeelte daarvan nie, teen stedelike verval en toenemende misdaad te versterk en te beskerm nie, maar ook om sodoende die gebied te bewaar, om ekonomiese ontwikkeling te lok, veral in die toerismebedryf en om eiendomswaardes te beskerm.
Om eiendomswaardes uit te bou deur addisionele / aanvullende dienste te lewer, word 'n heffing gevra en via die munisipale rekening van die betrokke inwoners en ondernemings wat by die CID ingesluit is, ingesamel en direk aan die CID oorbetaal.
Die heffings word ook deur die munisipiliteit beheer en is ‘n klein persentasiebydrae met heelwat voordele.
Die CID is 'n geregistreerde nie-winsgerigte organisasie (NPO) wat voldoen aan alle relevante wetgewing. Daarbenewens verskaf dit finansiële state aan die munisipaliteit, wat 'n toesighoudende rol speel en sodoende goeie bestuur en beskerming van die belange van die CID-lede verseker.
Belangstellendes word aangeraai om die CID se webwerf te besoek waar die organisasie se vyfjaar-implementeringsplan beskikbaar is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'